Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Algemeen » Koeitjies & kalfies » " Kronieke van 'n reklameman " deur G.A. WATERMEYER
" Kronieke van 'n reklameman " deur G.A. WATERMEYER [boodskap #69925] Tue, 03 December 2002 03:30
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

G.A. Watermeyer
Kronieke van 'n reklameman

Vyf môres sonder dou of daglumier,
sonder oop aarde of naakte son
vou ek my vaal vleuels oor my vaal hart
voor 'n lessenaar van klip
op die sewende gewapende afgrond
van die Fort van Vrees;
en met my treurige snawel van verslete opstand
pluk ek uit die trae waters van my lewer
stukkies rou rym op verkoopsmaat
verbete formules vir witter wasmiddels
haarsjampoe-himnes in die onoortrefbare trap
en 'n slagkreet vir seep
wat landswyd uitskuim
in die betaalde kolomme.

Vyf dae sonder glans of interlude van lourier
sonder borswering of rugskild
teen die maer swepe van bemarking
weeg ek en word ek geweeg
skep ek en word ek herskep
volgens die wisselende silhoeëtte
in die panorama van verpurperde produkte ...
Delegeer ek my talente en my trou
aan die Prinse van die Twintigste Bedeling;
hulle wat die koopstreke van die aarde oorheers
met Koninkryke van Sjampanje en Tabak
Sultanskappe van gesuiwerde olie
en Keiserdomme van kettingwinkels ...
Die gekroonde en die ongekroonde jong Caesars
wat die tente en die proviand verskaf
en die omvang van die legioene bepaal
vir die groot slag van die Tandepastas
in die jaar van Hexachlorofien.

En as die veldtog verby is
as alles verbrysel en verby is
as alles gesterf het en verby is
lei ek die vier wit hingste van my gebroke horisonne
oor erosies van teer en geel heuwels
na die stapelspelonke van selfbedienwinkels
en daar verbind ek hulle met droë oë
tot 'n rustelose maanhaar winskoopbaniere
en 'n staccato gerunnik van handelskronieke
oor die verveelde vlaktes van die eter.

Vyf aande sonder skemering of wildegans
sonder die lied van bergpatrys of tarentaal
verbind ek die verdriet van my versteurde horoskoop
met stukkies diereriem
en seldsaamhede in antiek
tot blinde bloeisels van 'n dooie boom.

Maar soms op 'n Vrydagaand om negeuur
onder die applous van ou mos en jong mout
stoot ek my stomp kop deur die boonste verdieping,
skreeu ek alle stemme om my stil
met 'n verwyt van verlore somers
van vinke vergete in die riet
en 'n kerkhof verdwaal tussen klip
waar rooi haasgras
die bitter blom van die dissel dra.

En op die sesde en die sewende dag
soek ek met my niere in die son na klawer
na 'n stilte van bos en blare
teen die skaduwee van die ou haat
wat die olie van my tong verdor
en die weedom van my gewonde gebeente
hol van heuning bloei.
Vorige onderwerp: Vir Gloudina oor die troue
Volgende onderwerp: Vir Wouter
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Thu Jan 09 07:31:17 UTC 2025